by Mariette Snyman
Danksy die Tellington TTouch-benadering kan jy jou troeteldier se gedragsprobleme sonder dwang of straf hanteer – met verstommende gevolge.
Deur Mariette Snyman
“Staan nou lekker gemaklik met jou gewig op álbei voete,” sê Eugénie Chopin, Suid-Afrika se enigste geregistreerde Ttouch-praktisyn, in haar gesellige Amerikaanse Engels. Voor ek nog kan wonder hoe dit gaan voel om ‘n “hondebehandeling” deur ‘n voormalige operaster te kry, begin haar ferm vingers sirkels op my linkerblad maak: kloksgewys, vashou, laat los. Al langs my rug af werk sy, en hoe verder sy vorder, hoe meer neem ‘n saligheid van my besit. Binne ‘n paar minute is ek so ontspanne dat ek wonder hoe ek ooit weer gaan motor bestuur …
Eugénie is opgelei in Ttouch™ for Companion Animals, ‘n rigting wat tot my verdriet nie op joernaliste afgestem is nie, maar op mak diere. Hierdie geheelbenadering tot die versorging en afrigting van honde, katte, voëls, perde en ander diere los talle gedrags- en gesondheidsprobleme op. Dit sluit spesifieke aanrakings (ttouches) en afrigtingstegnieke (groundwork) met spesiale toerusting en oefeninge in. Wat dit uniek maak, is dat dominerende optrede, dwang en straf taboe is. Respek, begrip en samewerking, glo duisende TTouch-aanhangers wêreldwyd, is die beste manier om die band tussen ‘n dier en “sy mens” te versterk.
Die gedoente met Danilo
Was dit nie vir ‘n hond met die naam Danilo nie, was ons land dalk steeds minus TTouch. In 1990 het Eugénie, ‘n selferkende hondeverslaafde, besluit dis tyd om ‘n hawelose hondjie ‘n tuiste te gee. By die Sandtontak van die DBV het sy ‘n viermaande oue patryshondkruisinkie uitgekies, min wetende watter dramatiese uitwerking hy op haar lewe sou hê.
Danilo – vernoem na ‘n karakter uit die operette ’Die vrolike weduwee’ waarin Eugénie toe gesing het – het binne ‘n paar maande die huis op horings geneem. Haar drie ander honde het so erg onder die klein terroris deurgeloop dat Eugénie die hulp van ‘n professionele hondeafrigter moes inroep. Nie hy óf ‘n dieresielkundige kon hond haaraf maak nie. Teen dié tyd het Danilo ook mense gebyt. Almal het gesê hy is gans te dominerend en dat hy ‘n manlike eienaar kort.
“As ek terugkyk, sien ek dat ek net mooi als verkeerd gedoen het,” vertel Eugénie. “Al wat ek van honde af geweet het, was dat ek mal was oor hulle! Op aanbeveling van die kenners, wat ook maar net hul bes gedoen het met die kennis wat hulle destyds gehad het, het ek Danilo verskree, gestraf en geïgnoreer. Hoe meer geweld ons gebruik het, hoe gewelddadiger het hy geword. En weet jy, tot vandag toe hou hy dit nie teen my nie.” Danilo, wat by ons op die kuierstoep lê, knip sy oë asof dit vanselfsprekend is dat hy haar lánkal vergewe het.
“Nou weet ek dat dit vrees was wat Danilo so aggressief gemaak het,” sê Eugénie. “Dis hoekom dwang nie gewerk het nie. Danilo het wel geleer om te down stay, maar uit vrees vir onplesierige gevolge, nie uit ‘n behoefte om saam te werk nie. Ons het sy basiese gebrek aan sekuriteit misgekyk.”
Op een van haar gereelde besoeke aan die VSA het Eugénie van TTouch, die breinkind van die internasionaal bekende dierekenner, Linda Tellington-Jones, te hore gekom: “Ná my eerste opleidingsessie was ek in trane. Eindelik het ek ‘n tegniek gevind wat met my gepraat het – ‘n praktiese en sagkense manier van doen, wat my nie laat voel het ek mishandel my hond nie.”
Terug in Johannesburg het Eugénie die TTouches op Danilo begin doen. Binne twee dae was hy soveel kalmer dat haar oudste hond, Musetta, wat Eugénie se slaapkamer en wandelings in die tuin uit vrees vir Danilo vermy het, weer voluit kon meedoen. Daar het nog ‘n lang pad van TTouches, lyfbande (body wraps) en grondwerk voorgelê, maar vandag is Danilo ‘n ander hond.
“Ek sal nou nie sê hy’s ‘n modelhond nie,” sê Eugénie nadenkend. “Ek gebruik nog ‘n kophalter as ek hom uitneem. Jy kan geen hond se natuur verander nie, maar jy kan hom help om meer gebalanseerd, goed aangepas en vol selfvertroue te wees. Dit spreek boekdele dat ek sedertdien nog twee honde kon aanskaf en dat Danilo albei aanvaar het.”
Sonder dat sy beplan het om ‘n TTouch-praktisyn te word, het Eugénie bly teruggaan vir verdere opleiding in die VSA. Sedert sy in die midnegentigs haar verhoogloopbaan van 25 jaar beëindig het, het TTouch ‘n groter plek in haar lewe gekry. As sy nie sanglesse gee nie, is sy besig met TTouch-konsultasies, werkswinkels of die opleiding van TTouch-praktisyns. Die eerste groep plaaslike praktisyns maak hul opleiding dié jaar klaar.
Boodskappe na die brein
Presies hoe werk TTouch?
Die wetenskaplike besonderhede is ingewikkeld, sê Eugénie, en berus op psigoneurologiese beginsels. ‘n Belangrike aanname is dat gedrag met fisieke stimulasie saamhang. ‘n Sekere vorm van fisieke stimulasie skep ‘n neurologiese baan in die brein, wat ‘n sekere optrede – soms onaanvaarbare gewoontegedrag – vestig. Verander jy die stimulasie, verander jy die neurologiese baan en skep jy die moontlikheid van nuwe gedrag.
“Nes mense, berg diere vrees en spanning in hul liggame,” verduidelik Eugénie. “Ons klem byvoorbeeld ons kake op mekaar as ons gespanne is. ‘n Hond wat bang is vir donderweer en verwoesting saai as hy daaraan blootgestel word, berg dié vrees gewoonlik in sy agterlyf. Kyk maar self of hy jou sonder meer sal toelaat om sy agterlyf te streel.”
As die weer swaar is, help dit selde om ‘n vreesbevange hond emosioneel te probeer kalmeer en te verwag dat sy liggaam sal ontspan. TTouch benader dit andersom. Die fisieke spanning word met TTouches en lyfbande aangespreek, wat die emosionele spanning verlig. Die hond ontwikkel mettertyd ‘n gebalanseerder liggaamsbewustheid en veg, vlug of vries nie meer instinktief as die weer swaar is nie. Omdat nuwe neurologiese bane gevorm word, kom hy agter dat hy anders kan reageer – hy “dink”.
Gedragskeuses wat jou goedkeuring wegdra, moet oorvloediglik aangemoedig word, sê Eugénie. Vroeër het Danilo nooit ‘n kans laat verbygaan om straat toe te glip as die hek oopgaan nie. “Ek het altyd geraas as hy die pad vat – pure verniet. Toe leer ek ‘n ander manier. Op ‘n dag het ek gesien hy mik vir die hek en hom in ‘n vriendelike stem geroep. Ek kon sién hoe hy met die keuse stoei. Toe hy omdraai en na my toe aangedraf kom, was dit soos ‘n oorwinning!”
Jy moet ‘n hond altyd prys as hy kom wanneer jy roep, al het hy pas ‘n Italiaanse aandsandaal opgevreet, sê Eugénie. As hy kan leer om sonder uitsondering op jou roep te reageer, selfs wanneer hy met die lekkerste stoutigheid besig is of op die punt staan om in ‘n geveg betrokke te raak, het jy driekwart van jou hondverwante probleme opgelos. “En wanneer hy kwaad doen, het dit net sin om daaroor te raas as jy hom op heterdaad betrap. Jy het sowat drie sekondes. Anders gaan hy geen benul hê waaroor jy omgekrap is nie.”
Wie, waarvoor en hoe
Vir watter soort probleme kan mense TTouch oorweeg?
Diere-eienaars wat haar werkswinkels bywoon, ervaar nie noodwendig probleme nie, sê Eugénie. Soms wil hulle net beter met hul dier kommunikeer. Dit maak sin om, as jy jou dier in elk geval streel, dit só te doen dat dit hom kalmeer en sy immuunstelsel versterk.
Diere wat by behendigheidsafrigting (agility training) vir honde, perdespringsport en so meer betrokke is, vind baie baat by TTouch. Gedragsprobleme soos vrese, skugterheid, aggressie, ooropgewondenheid, byt, krap, opspring, trek aan ‘n halsband, oormatige blaf en kou kan met TTouch verhelp en selfs opgelos word – ook karsiekte, wat dikwels met angs saamgaan.
TTouch doen wondere om ‘n dier van ‘n besering of operasie te help herstel of artritis, heupdisplasie en ouderdomsprobleme te verlig. Dis egter geen plaasvervanger vir veeartsbehandeling nie, beklemtoon Eugénie.
Om die ttouches, lyfbande en grondwerk te leer ken, kan belangstellendes ‘n werkswinkel bywoon of ‘n TTouch-praktisyn spreek. Volgens TTouch-filosofie staan die individualiteit van elke dier en die uniekheid van elke leerproses voorop, en elke geval word anders hanteer. “TTouch het my lewe ingrypend verander,” sê Eugénie. “Nou dat ek verstaan waar diere se onaanvaarbare gedrag vandaan kom, verloor ek nooit my geduld nie. En dit het na my menseverhoudinge oorgespoel. Ek sien die onderliggende vrees in ‘n kwaai mens se woede en neem dit nie meer persoonlik op nie. Ek kan dit met respek hanteer.”
Eugénie Chopin: 011 884 3156011 884 3156011 884 3156011 884 3156, eugenie@ttouchsa.co.za, www.ttouchsa.co.za
Linda Tellington-Jones bied op 4 April 2003 ‘n perdekliniek in die Lippizanersaal, Kyalami aan. Navrae: 011 884 3156011 884 3156011 884 3156011 884 3156.
Eugénie tree op by die Dynamic Living Festival: 19-20 April (Durban); 26-28 April (Johannesburg). Navrae: Penny, 082 713 5906, www.mostinnermost.co.za
In ‘n neutedop
- Linda Tellington-Jones het TTouch in die laat sewentigs begin ontwikkel deur die beginsels van die Feldenkreis bewegingsterapie (vir mense) op perde toe te pas.
- TTouch is al met welslae op meer as 30 diersoorte gebruik.
- Troeteldiereienaars, telers, veeartse, diereskuilings, dieretuine, Olimpiese spanne en universiteite in meer as 30 lande gebruik TTouch.
- Getting in TTouch with your dog en Getting in TTouch with your cat is van Linda Tellington-Jones se gewildste boeke.
Doen dit self
TTouches is ‘n kombinasie van sirkel-, gly- en ligbewegings van die hand en vingers op die dier se vel. Die bewegings, met name soos clouded leopard, bear touch en python lift, stimuleer neurologiese bane wat nooit of selde gebruik word.
Die luiperdsirkel is die basiese beweging. Dink aan ‘n horlosie se gesig en sit jou vingerpunte op jou dier se vel. Werk kloksgewys vanaf die 6 reg rondom na die 9. Hou die vel ‘n rukkie en laat los. Pas die drukking en spoed van die beweging by jou dier se reaksie aan.
Sekere dele van jou dier se lyf berg sensitiewe kwessies en moet versigtiger benader word. Streel sy hele lyf met lang, stadige hale en let op waneer hy ongemaklik raak. As hy wegbeweeg, gaan sit, omdraai om te kyk wat jy doen, gaap, sy lippe aflek, krap, kou, snuif, begin speel, grom of selfs byt, is jy by ‘n liggaamsdeel wat pyn, ‘n pynherinnering of ‘n emosionele kwessie berg. Om jou dier ‘n nuwe ervaring van dié deel te gee, moet jy gereeld daaraan werk tot hy jou aanraking geniet.
Die ore is ‘n goeie wegspringplek. Hulle bevat drukpunte wat met die immuunstelsel verband hou. Streel die ore van diep binne na die punte, binne én buite, oraloor. Herhaal met klein sirkeltjies – gebruik jou vingerpunte. Neem die oor in jou hand en maak sirkels in albei rigtings. Maak laastens klein sirkeltjies met jou vingers rondom die basis van die oor.
Klink dit vreemd om binne-in jou hond of kat se mond te werk? Mondwerk maak sin omdat die mond met die limbiese deel van die brein, wat emosies soos woede, vrees en angs beheer, verbind is. Dis veral goed vir honde wat te veel blaf, kou, byt of kerm.
Wees geduldig as jou dier nie aan mondwerk gewoond is nie. Stut hom onder die kaak en streel die bek met sagte hale in die ore se rigting; vermy die snorbaarde. Maak sirkeltjies oral op die bek. Beweeg saam met hom as hy wegruk. Maak sirkels onder en/of bo die neus. Probeer die bolip lig. As hy saamwerk, kan jy sirkeltjies oral op die tandvleis maak. Maak jou vinger nat as die mond droog is.
As jou dier nie daarvan hou nie, het jy op ‘n strespunt afgekom. Laat jou deur hom lei; jy kan hom oor ‘n langer tydperk help. As hy sy asem ophou, sal die ttouches hom gou laat ontspan. Sien www.touchsa.co.za vir inligting oor werk op die agterlyf en stert asook ttouches vir katte, perde en voëls.
‘n Veilige gevoel
Die sagte drukking van ‘n lyfband (body wrap) het ‘n kalmerende uitwerking op oorgestimuleerde senuwees, byna soos ‘n drukkie wat ‘n gespanne kind rustiger maak. TTouch gebruik half- of vollyflyfbande van rekverband. Jy kan ‘n “lyfband” improviseer deur vir jou hond ‘n T-hemp aan te trek. Steek sy voorpote deur die moue en bind die hemp met rek om sy buik vas. As dit groot genoeg is, kan jy ook sy agterlyf bedek. Sny ‘n gat vir die stert.
Lyfbande word onder meer vir karsiekte, vrees vir harde geluide en grondwerkoefeninge ingespan.
Grondwerk en halters
Grondwerkoefeninge, wat hinderniswerk en minilabirinte insluit, versterk honde se selfvertroue, liggaamsbewustheid en -balans. Kophalters word gebruik om hulle te help verstaan wat van hulle verwag word, eerder as om hulle “in toom te hou”. TTouch staan die gelyktydige gebruik van twee leirieme voor: een aan ‘n plat halsband of harnas en een aan ‘n spesiale kophalter.